Wednesday 2 October 2013

My ervaring van die 'blog'

Toe ek hoor dat ons 'n blog moet skep wou ek skree! Ek het paniekerig geraak. Hoe? Wat? Wanneer? Is hierdie vrou van haar trollie af?"
Aan die begin van die hele proses was ek baie onseker van myself. "Almal gaan jou nonsens lees." het oor en oor in my kop gespeel.

My pa moes my van "google translate" vebied. Hy het 'n tweetalige woordeboek en die HAT aan my oorhandig. Toe ek dit sien wou ek tjank.

Hierdie ervaring was 'n belewenis, is dit n' Afrikaanse woord? Die skryfstukke het my laat dink, regtig dink oor wat ek in my lewe het. Danksy hierdie blog besef ek nou hoe 'n ongelooflike familie ek het. Ek is verskriklik dankbaar daarvoor.

Aan die einde van die dag het ek hierdie ervaring nogal geniet. Ja, die was beslis 'n uitdaging, maar met die help van my pa het ek deur gedruk.

Wednesday 25 September 2013

Hoe om 'n familietwis by te lê die Fanie manier

Soos met alle families tree daar ook soms geskille in onder ons, Gewoonlik is ons niggies die oortreeders.

Afhangende van die erns van die geskil, word hierdie twiste deur of Mamma, dis nou my ouma en die oudste oorlewende familielid, of deur een van haar afgevaardiges gehanteer. Hoe kleiner die geskil, hoe minder belangrik die bemiddelaar.

Eerstens word die geskil tussen die partye bespreek deur die ouer gaarde. Hulle sal dan besluit hoe ernstig die geskil is en dan na gelang van die erns van die geskil, word 'n bemiddelaar dan aangestel.

Die twistende partye word dan genooi vir "'n koppie tee", dis nou kode vir 'n intervensie of as jy wil, 'n verhoor. Wat gewoonlik gebeur is dat die twistende partye, by ontvangs van die 'uitnodiging', besef wat vir hulle voorlê  en onmiddelik mekaar opsoek en dan die strydbyl begrawe. Wie wil dan nou so vertel word dat die see jou kan afwas nie, dis nou of jy nou reg of verkeerd was.

Op die dag van die "teepartytjie"word die bemiddelaar dan gekonfronteer deur die belieftigste twee mense onder die son. Dis nou wat ek nou noem bemiddeling sonder bemiddeling. Wysheid soos dit lei tot hegte familiebande.

As alle families hierdie instruksies volg, sal die duiwel baie hard moet werk om hulle te ontwrig.


Wednesday 18 September 2013

'n Troue in die familie

Iets was aan die broei. Dit lei ek af van die skielike stilte tussen my ouma en Juffrou toe ek onverwags die kombuis betree. Die twee was oomblikke tevore nog druk besig om iets te bespreek. Twee dae later word die groot geheim met ons gedeel. My tannie, Gameda, reeds in haar vyftiger jare, gaan trou en dit nogal met my Rekeningkunde onderwyser! Hierdie aantreklike wewenaar, was in menige weduwee en oujongnooi se visier en was beslis 'n vangs.

Mamma, dis nou my ouma, was aan die stuur want sy is mos die oudste. Die saal moet bespreek word en 'n gastelys moet opgestel word. Die arme bruid moes net ja en amen sê vir alles wat Mamma vorendag mee kom. Dit is nou tot Antie Seda, die tweede in bevel, haar opwagting gemaak het. "Nee, Mienta, dis mos nie jy wat trou nie, die arme kind wil ook mos haar insette lewer. Ons moet doen soos sy verlang. Sy wag al so lank vir haar troudag."

Stadig maar seker val als in plek. Dan breek die Groot Dag aan.

Boeta Bennie, die bruid se oudste broer, het haar volgens Islamitiese regte laat trou en daarna het die bruidegom sy nuwe bruid kom groet. Dit was nou 'n gesig om te aanskou. 'n Mooier prentjie het ek nog nooit gesien nie. Stralend het die paartjie hand in hand die saal binne gekom. Jaloerse blikke van die wat hom nie kon vang nie, was oombliklik sigbaar, maar net oombliklik. Almal in die familie was in hul skik met haar vangs en sy familie se tevredenheid was ook duidelik.

Die onthaal was uitstekend. Die saal was gedos in skakerings van blou en die kos was verruklik. Mamma se gesig het gestraal van trots. Ons Fanies weet mos hoe om makietie te hou.

Die gevoel van gedeelde vreugde en blydskap was amper tasbaar. My troudag moet ook so wees.

Wednesday 4 September 2013

Oujaarsaand met die Fanies en Behardiens

Oujaarsaand is omtrent 'n gedoente in ons familie. Dink jou in: 'n klomp swart gesigte kies "alles in wit"as 'n tema vir die aand! Ons vergader toe by my oom se huis, almal gedos in spierwit klere van kop tot tone. Van Kieyaan, my driejarige nefie tot my vier-en-sewentigjarige ouma.

Heel aand hoor jy net, "Oppas die drienks gaan op jou klere val."en "Azrah moenie jou hande aan jou klere afvee nie! Dit gaan vlek.""Genade!"laat Juffrou, raai wat se werk het sy gedoen voor haar aftrede, van haar hoor. "Is julle dan mal om Oujaarsaand in wit te vier?"

My oom Sediek vererg hom vir die klipharde musiek, maar sy geskellery val op dowe ore. Almal is te besig om hulself te geniet om hulle aan hom te steur.

Dan was daar die kos. Liewe Vader, was dit alles nodig? Dis braavleis, lasgna, samoosas, pasteie, Farha se "mocktails", Kamillah se tiramisu, terte vir Afrika en natuurlik Antie Mymoena se "lekkerder as seks tert". Ek weet nie hoe waar dit is nie, maar lekker was dit beslis. My pa se oom, Ismail, het met 'n glans in sy oog gesê dat die naam moet wees "amper lekkerder as seks tert".Steeds astrant op sewentig.

Almal lê van die lag vir die jongspan se dans "moves". Dis 'n geruk en gerol van 'n kant. Ilyaaz vermaak ons met Chris Brown passies, Omar vertel grappies wat die ouer van jare se ore laat gloei van die verleentheid en desondanks hulle objeksies skater ons van die lag.

Hier teen elfuur begin die kleintjies kerm want hulle is vaak, maar ons MOET deurdruk tot twaalfuur.

Dan die blink gedagte. "Kom ons gaan sien die nuwe jaar in op die strand."

Tjankende kinders word in motors gestop. Skellende ouers soek nog 'n trui of baadjie vir die kleintjies. Dan trek die hele karavaan af strand toe. My oom Ebrahiem voeg hom skel-skel by die groep. "Die @#@%$ spietkops het hom 'n R300 kaartjie geskryf vir onwettige parkering."

Ons is min gepla want almal se aandag is op ons gevestig en ons jongklomp is in ons noppies. Wie kan nou 'n honder raasbekke almal in wit geklee miskyk? Môre is ons die "talk of the town".

Dan begin dit: tien, nege, agt ........ Die toeters raas, die donkerte ontplof in alle skakerings van rooi en groen. Wat 'n pragtige gesig.

Moeg en vaak kom ons omstreeks tweeuur die oggend by die huis aan. Voor my oë toeval  dink ek vir oulaas: "My mal familie is die beste familie in die wêreld."

Tuesday 27 August 2013

My Mal Familie!

Daar is verskriklik baie woorde om my familie te beskryf. Dof is beslis nie een van hulle nie. Nou dat ek daar aan dink, normaal ook nie. Wanneer ek van my familie praat, praat ek nie net van my ma, pa, ouer broer of jonger suster nie. Nee, ek praat ook van my ouma, ooms, tannies, neefs en niggies, die hele spul!

Ons is 'n vier generasie familie. Wanneer ons almal besluit om saam te kuier, is niemand se huis groot genoeg nie. Gelukkig staan dit nooit in ons pad nie. Alhoewel ons 'n groot familie is, is ons baie geheg aan mekaar. Ons is daar om mekaar te motiveer en te ondersteun.

Ons is die soort familie wat kostuum en tema partytjies hou. Ons kamp saam, gaan saam uit, lag saam, huil saam, ons doen alles saam! Vir 'n buitestaander lyk ons seker gek! Ons familie samekoms is altyd luidrigtig en chaoties. Tien mense kan tien verskillende gesprekke hou en almal sal weet wat aangaan.

Danksy my familie is ek die persoon wie ek is vandag. Ek is 'n bietjie gek, maar ook 'n bietjie erenstig. Ek is eienaardig, maar ek ken my perke. Net soos my familie is ek so 'n bietjie van my trollie af.