Wednesday 18 September 2013

'n Troue in die familie

Iets was aan die broei. Dit lei ek af van die skielike stilte tussen my ouma en Juffrou toe ek onverwags die kombuis betree. Die twee was oomblikke tevore nog druk besig om iets te bespreek. Twee dae later word die groot geheim met ons gedeel. My tannie, Gameda, reeds in haar vyftiger jare, gaan trou en dit nogal met my Rekeningkunde onderwyser! Hierdie aantreklike wewenaar, was in menige weduwee en oujongnooi se visier en was beslis 'n vangs.

Mamma, dis nou my ouma, was aan die stuur want sy is mos die oudste. Die saal moet bespreek word en 'n gastelys moet opgestel word. Die arme bruid moes net ja en amen sê vir alles wat Mamma vorendag mee kom. Dit is nou tot Antie Seda, die tweede in bevel, haar opwagting gemaak het. "Nee, Mienta, dis mos nie jy wat trou nie, die arme kind wil ook mos haar insette lewer. Ons moet doen soos sy verlang. Sy wag al so lank vir haar troudag."

Stadig maar seker val als in plek. Dan breek die Groot Dag aan.

Boeta Bennie, die bruid se oudste broer, het haar volgens Islamitiese regte laat trou en daarna het die bruidegom sy nuwe bruid kom groet. Dit was nou 'n gesig om te aanskou. 'n Mooier prentjie het ek nog nooit gesien nie. Stralend het die paartjie hand in hand die saal binne gekom. Jaloerse blikke van die wat hom nie kon vang nie, was oombliklik sigbaar, maar net oombliklik. Almal in die familie was in hul skik met haar vangs en sy familie se tevredenheid was ook duidelik.

Die onthaal was uitstekend. Die saal was gedos in skakerings van blou en die kos was verruklik. Mamma se gesig het gestraal van trots. Ons Fanies weet mos hoe om makietie te hou.

Die gevoel van gedeelde vreugde en blydskap was amper tasbaar. My troudag moet ook so wees.

1 comment: