Wednesday 4 September 2013

Oujaarsaand met die Fanies en Behardiens

Oujaarsaand is omtrent 'n gedoente in ons familie. Dink jou in: 'n klomp swart gesigte kies "alles in wit"as 'n tema vir die aand! Ons vergader toe by my oom se huis, almal gedos in spierwit klere van kop tot tone. Van Kieyaan, my driejarige nefie tot my vier-en-sewentigjarige ouma.

Heel aand hoor jy net, "Oppas die drienks gaan op jou klere val."en "Azrah moenie jou hande aan jou klere afvee nie! Dit gaan vlek.""Genade!"laat Juffrou, raai wat se werk het sy gedoen voor haar aftrede, van haar hoor. "Is julle dan mal om Oujaarsaand in wit te vier?"

My oom Sediek vererg hom vir die klipharde musiek, maar sy geskellery val op dowe ore. Almal is te besig om hulself te geniet om hulle aan hom te steur.

Dan was daar die kos. Liewe Vader, was dit alles nodig? Dis braavleis, lasgna, samoosas, pasteie, Farha se "mocktails", Kamillah se tiramisu, terte vir Afrika en natuurlik Antie Mymoena se "lekkerder as seks tert". Ek weet nie hoe waar dit is nie, maar lekker was dit beslis. My pa se oom, Ismail, het met 'n glans in sy oog gesê dat die naam moet wees "amper lekkerder as seks tert".Steeds astrant op sewentig.

Almal lê van die lag vir die jongspan se dans "moves". Dis 'n geruk en gerol van 'n kant. Ilyaaz vermaak ons met Chris Brown passies, Omar vertel grappies wat die ouer van jare se ore laat gloei van die verleentheid en desondanks hulle objeksies skater ons van die lag.

Hier teen elfuur begin die kleintjies kerm want hulle is vaak, maar ons MOET deurdruk tot twaalfuur.

Dan die blink gedagte. "Kom ons gaan sien die nuwe jaar in op die strand."

Tjankende kinders word in motors gestop. Skellende ouers soek nog 'n trui of baadjie vir die kleintjies. Dan trek die hele karavaan af strand toe. My oom Ebrahiem voeg hom skel-skel by die groep. "Die @#@%$ spietkops het hom 'n R300 kaartjie geskryf vir onwettige parkering."

Ons is min gepla want almal se aandag is op ons gevestig en ons jongklomp is in ons noppies. Wie kan nou 'n honder raasbekke almal in wit geklee miskyk? Môre is ons die "talk of the town".

Dan begin dit: tien, nege, agt ........ Die toeters raas, die donkerte ontplof in alle skakerings van rooi en groen. Wat 'n pragtige gesig.

Moeg en vaak kom ons omstreeks tweeuur die oggend by die huis aan. Voor my oë toeval  dink ek vir oulaas: "My mal familie is die beste familie in die wêreld."

2 comments:

  1. Ek lees lekker!

    Enkele opmerkings:

    1. hulself te geniet - om dit te geniet
    2. van 'n kant - van 'n kant af.
    3. objeksies - teëstribbeling
    4. honder - honderd

    ReplyDelete
  2. Ja nee dit was omtrend 'n aand. Jy laat my nou darem lekker lag.

    ReplyDelete